Sakeredders wil Poskantoor moderniseer, herstruktureer

Die sakereddingspraktisyns wat aangestel is om die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) reg te ruk, meen daar is nog hoop om dié sukkelende staatsinstelling van ondergang te red. Een van die aanbevelings wat die praktisyns gedoen het, is om sowat 6 000 poste te besnoei. Anoosh Rooplal en Juanito Damons, die aangestelde sakereddingspraktisyns, het vandeesweek gesê die Poskantoor kan volhoubaar as 'n lopende saak bedryf word. Hulle het die standpunt egter gegrond op die reddingsboei van R2,4 miljard wat die nasionale tesourie in Februarie se begroting aan Sapo toegeken het, asook op 'n bykomende finansieringsvereiste van R3,8 miljard om Sapo te herkapitaliseer.

"Die reddingsplan moet die maatskappy stabiliseer en solvent maak sodat die Poskantoor weer volhoubaar kan word en as 'n lopende saak bedryf kan word sonder om in die toekoms staat te maak op 'n reddingsboei van die regering,” sê die praktisyns. Verder maak die plan voorsiening vir 'n beter uitkomsplan vir die Poskantoor se krediteure. Dit volg nadat die instelling ingevolge 'n hooggeregshofbevel op 10 Julie vanjaar in sakeredding geplaas is.

'n Ondersoek van die sakereddingspraktisyns het gevind dat die Poskantoor se uitgawes pal sy inkomste oorskry. Die Poskantoor se uitgawes het sedert die 2022-boekjaar sy inkomste met 200% oorskry en in die geheel het die Poskantoor sowat 150% van sy inkomste aan salarisse en lone bestee. Verder is geld bestee aan "onvoldoende IT-stelsels, vlootbestuur, posverwerkingsentrums, depots en taknetwerke".

Die nuwe reddingsplan stel daarom voor dat sowat 6 000 van die huidige 11 083 werkers afgelê word. Dit sal die jaarlikse werknemerkoste met R1,2 miljard besnoei. "Maar die maatskappy het 'n vaardigheid- en bestuurstekort wat gepak moet word om 'n kultuurverandering teweeg te bring en die maatskappy te lei om beter te presteer," het Rooplal opgemerk.

Die reddingsplan stel ook voor dat Sapo sy takke landwyd tot 600 verminder. Dit sal genoeg wees om die Poskantoor se mandaat te vervul ingevolge internasionale possentrumvereistes. Verder is opdrag gegee dat al 427 eiendomme in die Poskantoor se besit onafhanklik gewaardeer word.

Volgens Rooplal is daar gevind dat baie van dié eiendomme heelwat instandhoudingswerk nodig het. "Die eiendomme is egter goed geleë en kan vir eiendomsontwikkelaars van belang wees," het hy gesê. Die reddingsplan het ook gekyk waaruit die Poskantoor se inkomste bestaan en stel voor dat hy belê in toegewyde verkoop- en sakeontwikkelingspanne om sy grootmaat-posverkope te vermeerder.

Van al die Poskantoor se inkomstebronne is grootmaatpos (42%) verreweg die grootste. Verder wil die plan ook fokus op "hibriede pos" wat sal insluit Sapo se verwerking van verkeersboetes. Sapo het glo reeds 'n ooreenkoms met die padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) aangegaan om die boetekennisgewings te druk en af te lewer. Nog 'n bron van inkomste is voertuiglisensies.

Ander bronne van inkomste wat vantevore voortdurend misluk het, moet uitgefaseer word. Dit sluit volgens Rooplal oor-die-toonbank-betalingsdienste soos Sassa-uitbetalings in. "Die plan voorsien 'n moontlike verkoop van sekere Sapo-takke aan die Posbank wat dan die Posbank in staat sal stel om sy netwerke uit te brei. Dít op sy beurt sal die Poskantoor in staat stel om op meer volhoubare sakemodelle te fokus."

To start learning, sign up for free.